Vriende van Letaba BJV
Hierdie is 'n dankiesê bladsy aan al die vriende van Letaba tak van BJV. Hierdie vriende is persone wat nie lede is van BJV Letaba tak nie en ook nie met 'n lid getroud is nie, maar wat deur die jare en elke jaar nog hulle deel doen om van Letaba tak se aktiwiteite 'n sukses te maak. Ook ons borge reken ons as ons vriende. Ons ontvang graag van Letaba taklede foto's en 'n kort beskrywing van wat hierdie vriende alles vir BJV beteken het of nog beteken.
Hannes Botha was vir 'n paar jaar 'n baie aktiewe lid van Letaba tak en was Ondervoorsitter van ons tak toe hy in 1999 na Kanada verhuis het. Hy is tans in 'n mediese praktyk in die dorp Redwater in die Alberta provinsie van Kanada, waar hy en sy kinders gereeld jagtogte in die sneeu onderneem (lees gerus van sy jagte in die die Feb 2005 uitgawe van Impala bl 17 - 19 elders op die webwerf.) Hannes laat weet gereeld vir ons hoe dit daar in Kanada gaan, en het ook twee jaar gelede vir ons pragtige boeke en ander pryse gestuur wat ons op ons wildsete verkoop en as trekpryse uitgedeel het.
Kobus en Michelle was lede van Letaba tak. Sedert hulle verhuising na Pretoria en hulle suksesvolle stigting van daardie tak, kom hulle nog telkens elke jaar af met Letaba tak se Pro-Amm of Groeperingskietdag om die reuse taak van die verwerking van die inskrywings en punte te behartig.
Marietjie Naude is, alhoewel nie lid van BJV nie, al vir meer as 10 jaar 'n staatmaker as dit kom by die gaarmaak van wildsvleis vir ons jaarlikse wildsete. Sy is ook altyd behulpsaam by die mooimaak van die saal en enige guns wat BJV van haar vra.
Oom Phil en tannie Ella het nie net vir die Tzaneen gemeenskap deur die jare gedien nie, maar ook vir Letaba BJV in die besonder baie beteken, veral op Junior 1 kursusse waar hulle hulle plasie op die Orpen pad gratis beskikbaar gestel het vir ons kursusse en waar Oom Phil nog self ook by was op van die kursusse en hom as ware vriend van BJV Letaba tak openbaar het.
Ma en Ouma Hester Botha, Ma van 7 lede (kinders en skoonkinders) en ouma van 6 lede van Letaba tak het vanjaar 80 jaar oud geword. Vanaf die heel eerste wildsete van Letaba tak 12 jaar gelede, maak sy nog elke jaar een of twee wildsgeregte vir hierdie ete en het sy vir feitlik al die wildsetes brode gebak. Sy woon ook gereeld van ons funksies by.
Tannie Moppie van Dyk : 1939 - 2014.