Nadat u die CHASA Bekwaamheids kursus (teorie en prakties) suksesvol afgelê het, kan u aansoek doen vir u Toegewyde Jagter Status. Hierdie status word deur die tak goedgekeur en uitgereik. Die koste verbonde aan hierdie aansoek beloop `n eenmalige bedrag van R200.00. 

Ten einde hierdie status te behou moet u ten minste aan drie jagverwante aktiwiteite per jaar deelneem. Verder moet u `n vol opbetaalde lid van hierdie vereniging wees. Die vereniging moet elke jaar `n verslag deurgee aan die Sentrale Vuurwapen Registrateur rakende Toegewyde lede.

Dit is elke lid se eie verantwoordelikheid om bewyse van sy / haar aktiwiteite aan die tak sekretaris/esse deur te gee. Dit is baie belangrik om reeds voor 1 November elke jaar  julle bewyse van jagte in te handig sodat dit op leêr gesit kan word en op die webwerf databasis aanbring kan word. Onthou dat as jy jou status verloor het, mag jy onmiddelik net 4 vuurwapens op jou naam hê en alles meer as 4 moet dan by die SAPD ingehandig word vir vernietiging of onmiddelik verkoop word. Jy gaan dit waarskynlik ook baie moeilik regkry om weer hierdie status te bekom. Alle BJV aktiwiteite word outomaties op die web aangebring teen jou rekord, MITS jy seker maak jy teken die register of die vrywaringsvorm by die skietbaan EN dat jou lidnommer ook aangeteken is.

Toegewyde Jagters wat van ander verenigings by BJV aansluit, behou hul status. `n Gewaarmerkte afskrif van u sertifikaat moet as bewys ingedien word. Nadat ons u status met u vorige vereniging bevestig het, word dit oorgedra op ons databasis. U word versoek om bewys van u lidmaatskap by BJV aan u vorige vereniging te stuur.
 
Toegewyde Jagters wat hul lidmaatskap by BJV opse moet skriftelik kennis gee van hul voorneme, asook bewys van lidmaatskap by `n ander geakrediteerde vereniging.

Die rede vir bogeniemde prosedure is as volg:
Die verslag wat Jagtersverenigings jaarliks aan die SAPD lewer, is `n negatiewe verslag. Met ander woorde dit bevat slegs besonderhede van persone wat hul status verloor het. Indien u u vereniging verlaat sonder bogenoemde reelings, laat u die vereniging geen ander keuse as om u besonderhede tot die lys by te voeg nie. Noodloos om te se dat dit makliker is vir `n koei om `n haas te vang, as om u status herstel te kry.

Dit bly die verantwoordelikheid van die lid om te verseker dat die proses na behore deurgevoer en afgehandel word. U het vrye keuse aan watter vereniging u wil behoort, moet egter nie onverantwoordelik wees en die gevaar loop om van u wapens te verloor nie.