Aaaa!

Seker die lekkerste funksie van elke jaar is ons jaarlikse wildsete, waar elke lid die stukke wildsvleis wat hy sorgvuldig sedert die jagseisoen spesiaal vir hierdie doel gebêre het, met sy eie geheime reseppie en toorgoedjies, meesterlik voorberei.

Wildspastei, sosaties, filette en nog meer van byna al die wildspesies waaraan jy kan dink word voorgesit, Pofadder, Olifantslurp, seekoei fillet, Koedoe, Bosbok, Volstruis ens ens ens

Dit is dan ook Letaba tak se afsluitingsfunksie, waar byvoorbeeld die Lid van die Jaar, Jagter van die Jaar, Grootkampioen en ander toekennings oorhandig word. Pasop ook wat jy vir jou mede-jagters vertel van die glipsie wat jy in die jagveld oorgekom het, want dit is ook die geleentheid waar ons die Jagblaps van die Jaar toekenning oorhandig.

Dis ook die tyd dat Mammie 'n slag beloon word - nie net kan sy 'n slag ook 'n heerlike okkasie bywoon nie, maar daar word ook jaarliks 'n Jagweduwee van die Jaar prys getrek vir een van die vrouens van jagters wat gereeld in die jagseisoen vir naweke alleen agterbly. En dis nie 'n sommerso prys nie, maar gewoonlik 'n duur en duursame geskenk. Onthou net dat Mammie self daar moet wees, anders mag sy nie die prys kry nie.

Daar word gewoonlik ook goeie trekpryse op hierdie aand uitgedeel. Onthou dus om in die jagseisoen 'n stukkie vleis vir hierdie geleentheid te bêre!

Vir 2013 word dit by Letaba River Lodge gehou.

Die funksie begin om 18:00 en die kostes beloop R150-00/volwassene en R50-00/kind onder 14 jaar. Kaartjies is beskikbaar by ons takkantoor, Nadia 071 871 4710.

Nou het jy nie meer verskoning nie, daar's kos op die tafel, die kinders word versorg en jy kan 'n paar draaie op die dansbaan maak.....