Tydens die Junior 2 kursus word al die teorie wat in die Junior 1 kursus deurgeswoeg is, prakties in die veld toegepas. Dis op hierdie kursus waar daar gekyk word of die junior goed opgelet het na die teorie! Nou gaan elke kind, onder leiding van 'n ervare instrukteur, veld toe om sy/haar eerste rooibok te gaan skiet!

Baie van die teorie word dan nou prakties in die veld demonstreer en sekere teoriekursusse, soos byvoorbeeld Vuurwapenveiligheid en Skootplasing, word op hierdie kursus herhaal voordat die eerste tree in die veld gegee word. Daar word ook van elke kursusganger verwag om sy/haar eie bok af te slag - en hier word ook baie pret ervaar.

Natuurlik word daar elke aand om die vuur van elke jagtertjie verwag om sy/haar ondervindinge van die dag met kleur en geur te vertel! Onthou net dat die Junior 1 kursus eers gedoen moet word voordat kursusgangers op die Junior 2 kursus toegelaat sal word. Kyk op Letaba tak se jaarprogram wanneer hierdie kursus plaasvind en skakel vir Die opleidings voorsitter, Tinus Erasmus by 072 631 6780 as jy wil saamgaan