Ons klubhuis huisves nie net ons ledevergaderings nie maar ondergaan ‘n metamorfose na ‘n miernes op aktiwiteitsdae. Ma, kinders, oupa en ouma kuier saam met pa op hierdie lekker geleenthede. Tussen die braai en kuier gebeur daar baie.

Die aktiwiteit wat waarskynlik die meeste differensieer tussen ouderdomme is die uiters gewilde windbuksbaan. Hier woel dit behoorlik en die baanbeamptes moet katvoet staan. Van jonk na oud en selfs ouer kom wys hul staal (of is dit nou lood) op die baan.

As teikenskiet jou nie gelukkig hou nie kan jy die eendjie-valplate aandurf en wanneer dit nie meer ‘n uitdaging is nie kan jy die praktiese baan loop en kyk hoeveel van die diere jy op verskillende afstande met net 10 loodpille van kant kan maak.

By skietbaan 1 is die baanbeamptes altyd slaggereed om die gewildste geweer te laat gons. Die .22 baan se reputasie vir hoë genotvolle kompetisies loop hom vooruit. Wie kan dit dan nou weerstaan om vlakvark valplate op 40 m in die visier te kry? En vir die wat beter as goed is kan jy kyk of jy teen die horlosie kan skiet.

Reg langs die .22 baan wag net die ding wat jy nodig het om jou bloed te laat borrel. Vat jou kans op die berugte “Stormende Leeu” en kyk of jy drie skote op die regte plek in die ou maanhaar kan plant binne 10 sekondes......anders het hy jou. Hierdie is nie vir die stadiger skerpskutters nie en jy word gepenaliseer met een punt uit vyf (per skoot)op kalibers kleiner as 9.3/375. As die Leeu jou goed wakker het moet jy by Johan Ehlers die handwapen baan besoek. Kyk of daai oog en hand nog saam met die kortloop werk. Sodra jy jou oog in het op die teikenbeurt is die praktiese pistool/rewolwer skiet dalk net die ding om jou vaardigeid teen tyd te toets.

‘n MOET vir ma en pa! Teen die tyd moes jy al van die “stoot-skote” van die buskruit gewere gehoor en geruik het. Wie kan nou nie die rookskerms raaksien nie. Besoek die lekker afdeling en prikkel jou behoefte om lawaai en rook te maak met die sport. Die manne skiet skyf, kompetisie en jag met hierdie eeue oue beproefde wapens.

Die Boogskutters laat ook nie met hulle mors nie. Kom deel die kuns om met die nuwerwetse instrumente 'n punt te bewys.

Onder Gerrit Boersma se bekwame leiding kan jy nou by die kleiduifskietbaan jou oog gaan inkry vir jou jaarlikse voëljag. Dis hier waar die seuns van die manne geskei word! Die baanoffisiere kan jou egter baie goeie raad gee met sy opleidingswenke wat jou trefskootpersentasie sommer beduidend kan laat styg! Daar word ook deur die jaar kleiduifskietdae aangebied - hou die kalender dop. Klaar gespeel?

Nou praat ons gewere.....Kom skiet saam - die CHASA tabel, groepering, gonge en nog wat. 100, 200 of 300m net wat jou vertroue in jou wapen en jouself jou toelaat. Ons hou ook deur die jaar ghong-skietdae, waar veldtoestande gesimuleer word. Dit word gehou op die plaas van Alwin Fleischmann naby Mooketsi. Kyk op die jaarprogram vir Alwin se selnommer en die roete na sy skietbaan. Alle aktiwiteite word onder die bekwame sorg van getroue en goed opgeleide baanoffisiere uitgevoer en alle veiligheidsmaatreels word ten alle tye nagekom. Gewoonlik braai en kuier ons ook lekker om die vuur in die aande na 'n skietdag (veral die groot skietdae) en daar is 'n kontantkroeg beskikbaar.

Dis hier waar jy die manne leer ken en hier word jy ook dikwels saamgenooi met ander jagters om op daardie spesiale plek te gaan jag waar jy dalk nie maklik self sou kon inkom nie. Dit is ook gewoonte by Letaba tak om die Vrydagaand voor die skietdag bymekaar te kom en so al kuier-kuier die werk (soos teikens plak ens) vir die volgende dag klaar te maak en sommer te braai ook daarna. Kom word deel van die span.

As jy nie kom kuier nie sal jy nie weet wat jy mis nie!